Perth Afrikaanse Boekklub 2026 boeke

Perth Afrikaanse Boekklub 2026 boeke

Januarie se boek van die maand: Mevrou Smit se Reëls vir Goeie Gedrag deur Elizabeth Wasserman

Boekopsomming: Die winter bring goeie reën vir Aronspoort, dalk die jaar 'n bietjie te veel reën. 'n Geraamte spoel uit die rivier, basies in Mevrou Smit se agterplaas, en so word ou geheime ook uit die verlede uit oopgekrap.

Mevrou Smit kan natuurlik nie nié inmeng nie. Sy wil die raaisel oplos voor sy weer paaie kruis met daardie lastige Kaapse speurder. Maar hoe meer sy krap, hoe meer begin die verlede terugbyt, want iemand doen moeite om sekere dinge stil te hou.

En dan, soos Aronspoort dit doen, gooi die dorp nóg olie op die vuur. Juanita by die toeristekantoor beplan ’n historiese filmfees, en die ou films begin ongure stukke van die dorp se verlede ontbloot. Selfs oom Apie se storie is nie so eenvoudig soos mense gedink het nie. Die vraag hang in die lug, was sy dood rêrig natuurlik, of het hy ’n geheim saamgedra wat iemand ten alle koste wou begrawe?

Ons lesersindruk: Ons lees al vir Mevrou Smit se storie van die begin af, dus was dit lekker om weer te lees oor dieselfde dorpie en sy eksentrieke karakters. Dinge kan mos nie eenvoudig bly as Mevrou Smit in die omtrek is nie, so al die dramas en geheime van Aronspoort is altyd lekker om te lees.

Hierdie keer het ons ons eie Murder Mystery aand gehou, maar die karakters, moordwapens en plekke kom vanuit die Mevrou Smit boeke. Cluedo was lanklaas so 'n lekker speletjie! Ons moord koevert het gesê dit was Bart, in Mev Smit se Huis, met Gif.

 

Februarie Boek van die Maand: Oorlewingsgids Vir ’n Bedonnerde Diva deur Sophia Kapp

Toe Simoné, op vier-en-veertig, ná nóg ’n mislukte huwelik haar lewe weer van voor af moet begin, voel dit asof alles terselfdertyd uitmekaar val. Sy en haar seun trek terug na ’n klein Vrystaatse dorpie, nie noodwendig omdat dit die droom is nie, maar omdat ’n mens soms eers moet teruggaan voordat jy weer vorentoe kan beweeg.

Maar ’n nuwe begin op ’n dorpie is nie noodwendig eenvoudig nie. Skielik is sy weer onder haar ma se neus, langs haar ‘perfekte suster’ om vergelyk mee te word deur die plaaslikes en ‘n lang geskiedenis met die dorp en sy mense. En nie alle geskiedenis is goed nie. Verder is daar die kleinburgerlikheid, die mense wat alles raaksien en oral ’n mening het, die eiesoortige gemeenskap waarin jy nie sommer net kan wegraak nie.

Tog leer Simoné alles is nie sleg nie, tog is daar ook warmte, humor en onverwagse ondersteuning. Soos Simoné haarself tussen dié karakters bevind, begin sy stadigaan weer sin maak van haar eie waarde, haar menswees en die lewe wat ná teleurstelling steeds moontlik is.

Wat die verhaal so lekker maak, is dat dit nie net oor romantiese herstel gaan nie, maar oor ’n vrou wat moeg, seergemaak en effens bedonnerd is, en tog nie heeltemal bereid is om op te gee nie.

Tussen al die dorpsdinamiek, skerp waarnemings en snaakse oomblikke deur, ontdek Simoné weer iets van haarself. En iewers tussen die chaos, die hartseer en die alledaagse oorleef-tot-môre, is daar ook die moontlikheid van romanse en nuwe hoop

Ons lesersindruk: Ons het lekker gesels oor Simoné se mannewales en dinge. Beslis ‘n lekker boek om te bespreek! Hierdie was ons tweede Sophia Kapp boek en om woorde te soek uit hierdie boek om ons boekklub speletjie te speel, was vet pret.

 

Maart Boek van die Maand: Bonsaimeisies deur Erla Diedericks

Boekopsomming: Psigiater Ann Marais en haar stiefdogter kort n ordentlike breek. n Maand in die Wonderberge sal mos lekker rustig wees om die batterye te herlaai. Ann loop egter n ou vriend raak, die dorp se speurder. Marnus het al voorheen saam met Ann gewerk om n reeksmoordenaar vas te keer en vul haar in oor die grieselrige verdwynings en moorde wat tans die dorp n donker wolk gee.

Die moordenaar sien 18-jarige meisies as jong bonsaiboompies wat gesnoei en gewater moet word, tot hulle perfek is. Natuurlik prikkel dit Ann se nuuskierigheid en word sy sommer gou ook betrokke, of sy nou wou of nie.

Daar is baie verdagtes, baie kinkels in die kabels en die horlosie hardloop uit vir die ontvoerde meisies.

Ons lesersindruk: Die boek het ons omtrent gegooi, mens weet nooit wie die kroek is nie, daar is so baie kandidate en vreemde karakters wat vreemde besluite maak, jy wonder heeltyd.

 

April boek van die maand: Skoenlapper deur Irma Venter

Boekopsomming: Alex Derksen het ’n teorie oor chaos: waar hy ook al gaan, volg dit hom. Dis waarskynlik hoekom die joernalis homself in Tanzanië bevind om oor nóg ’n storie verslag te doen. Tussen Dar es Salaam en Arusha ontmoet hy vir Ranna Abramson, ’n vryskutfotograaf met wilde swart krulhare, ’n skerp tong en ’n verlede waaroor sy duidelik nie wil praat nie.

Alex weet amper onmiddellik daar is iets anders aan haar. Ranna leef lig, bly anoniem waar sy kan en vertrou niemand maklik nie. Maar nog voor hy mooi kan uitwerk hoekom sy hom so fassineer, haal die chaos hulle in. Dit begin alles met die reën. Eindelose reën wat paaie wegspoel en dorpies afsny. Dan spoel die lyk van die Amerikaanse IT-biljoenêr Billy Jones op ’n strand uit.

Skielik stel die polisie baie belang in Ranna. Hoe meer Alex probeer uitvind wat aangaan, hoe duideliker word dit dat Ranna nie bloot ’n toevallige toeskouer is nie. Haar verlede volg haar soos ’n skaduwee, en oral waar sy probeer wegkruip, haal dit haar weer in.

Leidrade, geheime en halwe waarhede stapel op, terwyl die briljante polisieman Hamisi Habane probeer uitwerk wie presies vir wie jag. En tussen alles deur ontwikkel daar iets tussen Alex en Ranna — iets broos, gevaarlik en moontlik rampspoedig.

Ons lesersindruk: Amper almal het gekla oor die einde – dit eindig so oop en sonder dat alles opgelos is! Dis slim want dit het gemaak dat van ons klaar die 2de boek geboek gekoop het, jy wil so graag weet wat gebeur. Dis ‘n testament van hoe spannend die storie is en hoe boeiend die karakters en hul drama. Dit was 'n lekker boek om te bespreek saam met pizza en wyn op so 'n koue herfsaand

 

Mei Boek van die Maand: Skorpio deur Deon Meyer

Boek opsomming: Bennie Griessel en Vaughn Cupido is bevorder tot Kaptein en is nou die room van Stellenbosch se speurdertak. Vaughn word betrokke by brandstigtingsake toe Bennie die tipe saak kry wat elke polisieman vrees, die dood van een van eie. Erger nog, dit was Vaughn se vriend daai en Bennie gaan die nuus moet deel.

Alles dui glo op ’n ongeluk, maar Cupido weet beter. Te veel vrae. Te veel stiltes. En Bennie wat hom nie heeltemal alles vertel nie. Terwyl Vaughn worstel met die verlies, raak sy brandstigtingsaak skielik meer ingewikkeld – iemand is oorlede. En nie sommer enigeiemand nie, ‘n bekende persoon.

Soos die ondersoeke vorder, raak dit duidelik dat hierdie nie bloot twee losstaande sake is nie. Belange bots, mense lieg, en karakters beweeg slinks tussen waarheid en misleiding. Die Wynlande se rustige landskap vorm ’n skerp kontras met die intriges wat onder die oppervlak broei, en hoe nader Griessel en Cupido aan antwoorde beweeg, hoe gevaarliker raak die speelveld.

Ons lesersindruk:  Lekker spannend, met ’n bekende gevoel danksy die Stellenbosch-ligging. Mens kan nie verkeerd gaan met ‘n Deon Meyer krimi nie, elke keer ‘n wenner! Dit was wel nie almal se gunsteling Bennie Griesel boek nie, maar ons sal beslis die volgende ene ook lees

 

Junie boek van die maand: Die Vrywilligers deur Malene Breytenbach

Boekopsomming: Teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog word ’n groep mense saamgebring deur iets wat groter is as hulself: die behoefte om te help wanneer die wêreld rondom hulle uitmekaar val. Terwyl soldate op die slagveld veg, is daar ook ’n ander groep wat hul eie oorlog beleef, en dis waar ons storie begin. Die vrywilligers wat op die ambulanse werk, mense wat probeer red eerder as vernietig, en hulle unieke rol in die oorlog.

Tussen gewondes, noodhospitale en die harde werklikheid van oorlog bevind die karakters hulself in ’n tyd waar alles onseker is. Die feit dat die hoofkarakters Skots is, maar hulself sien as Boere, veroorsaak reeds ‘n paar geligde wenkbroue. Die pêrels was omtent aan vasgeklou toe hulle dit waag om ‘n Engelsman ook te behandel, nie net hul eie landsburgers nie. Die Hippokratiese belofte om almal dieselfde sorg te gee word toe wel geonderhou.

Die verhaal wys ’n ander kant van die oorlog — nie net die generaals en veldslae wat in geskiedenisboeke onthou word nie, maar die mense tussenin: dié wat moes aanhou werk tussen pyn en verlies, wat moeilike keuses moes maak en steeds probeer vashou het aan menslikheid. Oorseese burgers wat aan die Boere se kant was, het selfs kom veg, al kan nie een die taal praat nie.

En natuurlik is daar ook liefde wat probeer groei in ’n tyd waar niks gewaarborg is nie. Wanneer die toekoms onseker is en elke afskeid dalk die laaste een kan wees, loop die emosies hoog.

Ons lesersindruk: Ons het Die Vrywilligers by die boekklub gelees en dit was interessant hoe uiteenlopend almal se reaksies was. Party lede was absoluut mal oor die storie en hulle het die historiese agtergrond geniet en die romanse tussen die karakters as mooi en hartroerend ervaar.

Ander het weer gevoel die boek het nie heeltemal sy volle potensiaal bereik nie. Die Anglo-Boereoorlog is só ’n ryk en emosionele tydperk dat sommige van ons graag ’n sterker wêreldskepping wou hê met meer detail van die tyd, die plekke en die werklikheid waarin die karakters geleef het. Die tydlyn het soms vinnig beweeg sonder dat die lesers daarvan in kennis gestel word en sekere karakters kon dalk meer ruimte gekry het om werklik te ontwikkel.

Die romanse het ook die groep verdeel: waar party dit oulik en romanties gevind het, het ander gevoel die vonk tussen die verliefdes was nie sterk genoeg om hulle heeltemal te oortuig nie.

Maar dis dalk juis wat ’n lekker boekklubboek maak — wanneer almal nie saamstem nie! Die Vrywilligers het beslis vir goeie gesprek gesorg, en dit was interessant om ’n ander perspektief op die Anglo-Boereoorlog te lees. ‘n Bietjie meer oor die mense agter die linies, wat nie noodwendig baklei het nie, maar steeds alles opgeoffer het.

 

Julie Boek van die Maand: Liefde Laat Jou Rice Krispies Anders Proe deur Tania Brink (Jaco Jacobs)

Boekopsomming: Marzanne is nie jou tipiese tiener meisie wat val vir elke tweede ou nie. Sy is baie uitgesproke oor haar gevoelens oor Shakespeare en sy bekende stuk, Romeo & Juliet. Sy kan dit glad nie verstaan dat iemand heeltyd op ‘n balkon kan staan en wag vir ‘n man om vir haar gedigte te kom op sê nie. Vir Marzanne klink dit na niks minder as marteling nie, veral met die tipe ouens wat in haar klas is. Veral die nuwe ou in haar klas op wie haar beste vriendin smoorverlief is.

Alles verander egter een middag toe Marzanne deur die epos briewe gaan wat leerders kan skryf vir die skoolkoerant. Dis Marzanne se werk om daardeur te sif en van die briewe te publiseer. Hierdie keer was die epos egter van ‘n ander soort. Dis die mooiste gedig wat opgedra word aan ‘n anonieme meisie. Marzanne epos terug – iets wat sy nog nooit gedoen het nie – om uit te vind wie hierdie skimdigter is.

Ten spyte van die feit dat die skim digter nie sy naam of die meisie se naam wil noem nie, publiseer Marzanne die gedig. Die hele skool se meisies is in verswymeling oor die mooi woorde en bombardeer Marzanne met vrae oor die geheime skrywer. Marzanne besluit om egter aan te hou om vir die skim digter te epos, dalk kan sy meer uitvind oor hierdie liefde verklarende gedig. En dalk, net dalk, kan sy leer hoekom mens se Rice Krispies anders proe as mens verlief is.

Ons lesersindruk: Meeste van ons het hierdie boek op hoërskool laas gelees en dit was lekker nostalgies om dit weer te lees. Die audioboek was egter maar ‘n baie slegte opname (mens hoor blaaie blaai, hoe die leser sluk, etc). Dit is ‘n baie oulike storie vir hoërskool leerders om te lees en ons het nogals vir Marzanne se karakter geniet.

 

Augustus Boek van die Maand: Landuit Want Jy Wil Mos deur Zirk van den Berg

Boekopsomming:  Hierdie is Zirk en sy familie se storie van hul immigrasie in 1998 na New Zealand. Vanaf die besluit, die oppak, die groet, die huis soek, die werk soek, die vriende soek, tot die tuis word in ‘n nuwe land. Die boek bevat eposse wat destyds gestuur was met al die rou emosies, onsekerheid sonder die rooskleurige brille. Elke immigrasie proses is moeilik, almal se storie is anders, maar tog is daar emosies wat almal mee kan assosieer wat al ooit die skuif gemaak het.

Ons lesersindruk: Ons is spyt om te sê dat dis die eerste keer dat niemand die boek betyds klaar gelees het vir boekklub nie. Dit beteken beslis nie die boek is sleg nie, maar ons is almal immigrante en kon ongelukkig nie baie vereenselwig met hierdie storie nie. Die verskil wat dertig jaar maak ten opsigte van immigrasie is nogals groot. Die wêreld het baie kleiner geraak en kommunikasie is soveel makliker nou met slimfone en internet toegang orals. Selfde met die huis- en werk soek deel – die internet het alles baie eenvoudiger gemaak. Ons stem wel almal saam dat immigrasie vrek moeilik is, veral emosioneel, maar die praktiese deel is nou eenvoudiger as wat Zirk en sy familie moes deur maak.

Ons het almal stories van ons eerste Kersfees oor die waters, die eerste huis, die eerste kleinkind sonder grootouers wat naby is, en dit bly moeilik, maar dit raak beter. Stadig maar seker klim Australië in mens se hart en dan begin mens dit “huis” noem, ipv Suid Afrika. Ons is wel ook nou ‘n baie groter Suid Afrikaanse gemeenskap as in 1998 en dis maklik om mekaar te vind met Facebook groepe etc. Dit laat mens klaar makliker tuis voel in die begin om ietsie bekend te vind in die nuwe, vreemde land waar kangaroos in die pad af hop.

Een van ons groeplede het al as kind geimmigreer (25 jaar gelede) en haar ma het die boek verslind. Sy’t gesê dit was eintlik baie konfronterend om te lees, sy onthou die gesukkel, die onsekerheid, die alleen-voel agv stadige of duur kommunikasie met Suid Afrika. Dus dink ek die boek het wel vir ons as gehoor gemis,maar dalk kan ‘n bietjie ouer generasie dit meer waardeer.

 

 

September boek van die maand: Die Drie Weduwees (#4) deur Irma Venter

Boekopsomming: Ami Prinsloo was hartseer om te hoor oor die skielike afsterwe van haar mentor, Paul de Jager. Hy het haar egter gelos met ‘n ou boeiende dossier – die verdwyning van Ebbie Gouws in Moot, Johannesburg. Die saak het in sy eie buurt gebeur en het hom deur die jare erg gepla.

Ami gesels met Paul se drie weduwees, Ebbie se ma en die ander mense in die area. Alles wys na die skuldige pedofiel wat in die area doenig was ten tyde van Ebbie se verdwyning. Maar hy het dit nooit erken nie en daar is geen bewyse teen hom nie. Ami begin nou krap waar dit nie jeuk nie en die klein gemeenskap se geheime kom satdig maar seker na vore.

Toe nog ‘n seun in die area verdwyn, voel dit vir Ami asof tyd uithardloop en die wette en reëls teen haar is, ipv vir die slagoffers. Gaan Ami daai lyn oortree om iemand potensieël te red, of gaan sy magteloos staan en toekyk hoe alles in chaos verander. Snaaks hoe so ‘n ou saak so baie wonde kan oopkrap.

Ons lesersindruk: Ons is maar ‘n aanhangers van Ami Prinsloo en hierde boek was geen uitsondering nie. Al die spul interessante karakters en hul geskiedenis het vir 'n baie interessante boek gesorg. So bly om te hoor die volgende boek kom amper uit!

 

Oktober Boek van die Maand: Die Verdwyining van Mina Afrika deur Zuretha Roos

Boekopsomming: Oppad einde Oktober!

 

November Boek van die Maand: Rebekka van Kameeldoringplaas deur Irma Joubert

Boekopsomming: Oppad einde November!

 

 

0 comments

Leave a comment